13 November 2017

Die groot oordenking

My Money Matters |

Suid-Afrika se nuwe Minister van Finansies, Malusi Gigaba, het onlangs die wenkbroue laat lig toe hy inklusiewe groei gelykgestel het aan radikale ekonomiese transformasie. Maar die punt is goed tuisgebring dat “daar geen ekonomiese vooruitgang kan wees wat die meerderheid van ons mense agterlaat nie”.

Sedert die koms van demokrasie het inklusiewe groei `n glibberige doel geblyk te wees aangesien die voordele van welvaartskepping na 1994 die massas nie naastenby bereik het nie. Inklusiewe groei kan omskryf word as groei wat die swakkes en gemarginaliseerdes groepe deelname in die ekonomie gee, asook groter deelname in die voordele van `n land se groei (adjunkpresident Cyril Ramaphosa het dit onlangs beskryf as dit “wat mense in staat is om te sien, voel en raak”).

Volgens die Internasionale Beleidsentrum vir Inklusiewe Groei, het Suid-Afrika lae inklusiwiteit vergeleke met ander ontluikende lande, grotendeels vanweë werkloosheid en groot ongelykheid van inkomste. Hoewel ons trae groei van die BBP `n faktor is, kan ekonomiese groei alleen egter nie inklusiwiteit waarborg nie omdat dit nie noodwendig werk skep nie. Trouens, Frederick Fourie, navorsingskoördineerder van die Navorsingsprojek oor Werkverskaffing, Inkomstedistribusie en Inklusiewe Groei het gesê dat werkverskaffing teen slegs die helfte van die BBP-groeikoers toeneem. Die ontvangs van voordele uit groei in die formele sektor in die vorm van maatskaplike toelaes dra by tot inklusiewe groei, maar genereer nie meer geld binne die finansiële stelsel nie.

Maar nie alles is wanhopig nie. “Die lewe is vandag veel beter as voor 1994,” sê Armien Tyer, Absa se Hoof van Beleggings van die Welvaart- en Beleggingsbestuur-kluster.

“Baie van die metrieke het verbeter, soos basiese gesondheidsorg en behuising, maar op sekere terreine vaar ons nie goed nie. Ons het nie genoeg werk geskep nie, wat `n gebrek aan waardigheid veroorsaak; 17 miljoen mense maak op maatskaplike toelaes staat en daar hang `n vraagteken oor skepping van die skyn van `n swart middelklas.”

Om te oordink

  • Suid-Afrika het `n lae vlak van inklusiwiteit vergeleke met sy eweknieë in ontluikende markte.
  • Die finansiëledienstesektor was stadig met verandering en huidige regulasies het nie met finansiële inklusiwiteit en toegang daartoe gehelp nie.
  • Belanghebbendes vereis dikwels aansporings om veranderings om die regte redes aan te bring.
  • Baie moet vorendag kom met eenvoudige finansiële oplossings vir die lae-inkomstemark.
  • `n Meer magtigende omgewing sal veel help om toestande te skep waarin die finansiëledienstesektor kan innoveer.
  • Banke moet hulself afvra in watter aktiwiteite lae-inkomsteverdieners betrokke is in die loop van hul daaglikse lewens, en hoe bankdienste aandag aan hierdie aktiwiteite kan
  • Inklusiewe groei, waarin alle sektore van die bevolking `n groter aandeel van die voordele van die ekonomie kan geniet, vereis dat Suid-Afrikaanse besighede saam met die regering werk om te ontwikkel.

Eers wanneer besighede hul oë begin oopmaak vir hierdie uitdagings en `n ingesteldheid van gedeelde waardes toepas om oplossings rondom tasbare behoeftes te bou, kan ons in enige beduidende mate verandering verwag. Die grondslag van gedeelde waarde is intrinsiek aan die ondersteuning van inklusiewe groei op `n wyse wat die gemeenskap bevoordeel en ook goed vir besigheid is.

Tyd vir die bankwese om te versnel

Finansiële inklusie is nou verweef met maatskaplike inklusie, wat dit `n pilaar van inklusiewe groei maak. Volgens The Road to Inclusion: Mastercard Financial Inclusion Survey of 2016, omskryf finansiële inklusie diegene wat tans nie in staat is, of nie bereid is, om ten volle te deel in die bankdienste wat in hul land aangebied word nie. Die Suid-Afrikaanse regering het die finansiële sektor uitgedaag om teen 2030 finansiële inklusie van 90% te bereik, wat `n besliste moontlikheid is. Volgens die 2016 FinScope-peiling het 77% van alle volwassenes tans `n bankrekening (indien ontvangers van maatskaplike toelaes uitgesluit word, is dié syfer net 58%). Dit dui aan dat finansiële uitsluiting nie so maklik te bowe gekom kan word nie – maar daar is onteenseglik aansienlike vordering op hierdie gebied gemaak sedert 1994. Dit gee egter nie rekenskap van die finansieel onderbediendes wat tradisionele bankrekenings het maar óf nie daarvan gebruik maak nie óf nie gebruik maak van voordele soos spaargeld en lenings nie.

Volgens BANKSETA het 42% van Manzi-rekenings (transaksiebankdienste vir diegene met `n lae inkomste) onaktief geraak, wat aandui dat finansiële toegang nie outomaties tot inklusie lei nie.

Die regering het voorts uitgegaan van die standpunt dat die finansiëledienstesektor te stadig was om te transformeer en dat die Finansiëledienstehandves hersien kan word om Swart Ekonomiese Bemagtiging te bespoedig. Tyer stem saam dat huidige regulasies nie finansiële inklusie en toegang aangehelp het nie. “Ons is goed met beleide, witskrif en so aan, maar ons word in die wiele gery deur swak uitvoering daarvan,” sê hy. Bankdiensteverbruikers onttrek namate Posbank regmaak om die finansiëlediensteveld te betree. Dit is die moeite werd om na te dink oor die feit dat baie inisiatiewe om diegene sonder bankrekenings na banke te lok en dus gemarginaliseerde lede van die gemeenskap in die sosio-ekonomiese hoofstroom te betrek, nie die gewenste resultaat bereik het nie. Terwyl ons streng regulatoriese omgewing vinnige innovasie moeilik maak, het Vodacom se M-Pesa en MTN se Mobile Money skynbaar misluk omdat klante bankrekenings by banktakke moes oopmaak en bankkoste betaal – struikelblokke wat lae-inkomsteverdieners moet oorkom, veral wanneer inkomste ongereeld is (dit was nie mobiele beurse in die ware sin van die woord nie). Hoewel dit `n goeie idee was, het uitvoering daarvan tekortgeskiet aan `n begrip van wat die kliënt werklik nodig het. Dit laat die vraag ontstaan: het hierdie maatskappye nie aan kliënte gevra wat hulle wil hê nie, of navorsing gedoen om dit vas te stel nie? Dit het eweneens vir banke logies gelyk om in vennootskap met stokvelle te gaan om inklusiewe groei te dryf, maar minder as die helfte van stokvelle in Suid-Afrika het bankrekenings geopen, hoofsaaklik weens banke se paternalistiese benaderings tot gemeenskapsinisiatiewe. Koppelbankdienste (besigheidsvennootskappe tussen gereguleerde finansiële instellings en onafhanklike instellings) kan dus moontlik nie die spreekwoordelike silwer lepel wees nie (die FinScope-peiling toon dat slegs 33% van volwassenes geld spaar, waarvan 15% deur banke spaar en 14% by ander formele (nie banke nie) instellings). Daarbenewens blyk die verkoop van tradisionele produkte in die stokvelmark kortsigtig te wees omdat daar wesenlik niks verkeerd is met stokvelle soos dit tans daar uitsien nie.

Daar is weer eens die kwessie om te kyk na wat kliënte nodig het en `n manier te vind om dit te bewerkstellig. Byvoorbeeld, Chijioke Kennedy Oji se dokument Promoting Financial Inclusion for Inclusive Growth in Africa, wat deur die Suid-Afrikaanse Instituut van Internasionale Sake uitgegee is, toon dat laer- en middelklas-Afrikane verkies om informele spaar- en kredietskemas te gebruik omdat dit as goedkoper beskou word, hulle maklik enige tyd by die skemas kan geld leen en geen voldoening (soos bewys van verblyf of `n identiteitsnommer) nodig is nie. Hulle hoef voorts nie aanvullende sekuriteit te verskaf nie en hoef nie te reis om `n bank te vind nie. Diegene wat nie bank nie, kyk na veilige en maklike maniere om geld rond te skuif wat hul lewens nie onnodig kompliseer nie.

`n Probleem rondom diegene wat nie bank nie, is een van apartheid se mees vernietigende nalatenskappe: `n swak begrip van wat banke is en wat banke doen onder die finansieel ongeletterdes en halfgeletterdes. Lae vlakke van finansiële geletterdheid belemmer pogings om mense te oortuig dat banke vertrou kan word en nie daar is om ‘geld te steel’ nie. Die kompleksiteite van bankdienste dryf `n wig in tussen die formele ekonomie en gewone mense, en dit kan `n uitdaging wees om `n model te vind wat waarlik die gaping oorbrug. Nog `n probleem is dat bankdienste nie die beskikbaarheid van kapitaal waarborg nie weens die risiko wat betrokke is, wat dit moeilik maak vir mense wat in die informele sektor werk om in die ekonomieë te deel. “Deel van die antwoord moet lê in die vind van maniere om diegene wat van die formele sektor uitgesluit is, in staat te stel om volhoubare, betaalde werk of in eie diens in die informele sektor te vind (of dit te behou) en hul inkomste uit sodanige werk te laat groei,” sê Fourie. Hy glo dat `n uitdruklike inklusiewe beleidstrategie nodig is om werkverskaffing en die verdienste uit eie diens in die informele en formele segmente van die ekonomie te verhoog. Hy glo dat beide die openbare en privaat sektore moet aandag skenk aan faktore wat benadeelde mense marginaliseer en uitsluit van deelname aan werkverskaffing en werk.

`n Meer magtigende omgewing sal veel bydra om toestande te skep waarin die finansiëledienstesektor kan innoveer. Hoe ver kan die sektor egter gaan gegewe dat internasionale regulasies nie ondermyn kan word nie (die beginsel van ken-jou-kliënt is `n goeie voorbeeld). Hoe kan `n mens die gaping oorbrug tussen die eise van voldoening en die daaglikse behoeftes van mense?

Tyd om na te dink oor innovasie

Volgens bankopvoedingsdeskundige dr Derek Shirley: `n Ander kwessie is die feit dat beleggers moontlik nie mag beskik oor die aansporings wat hulle nodig het om die soort vennootskappe te vorm wat ware vooruitgang kan dryf nie. Byvoorbeeld om te kyk na produkte met `n beloning (beloning kan kontant, voedselbewyse en so aan insluit) wat kliënte aanmoedig om hul bankrekenings te gebruik om kos, lugtyd, elektrisiteit, ensovoorts, te koop; `n ander moontlikheid is om `n gratis mobiele gelddiens aan betaalde advertensies te koppel.

Tot dusver was Net1 UEPS (met Grindrod) en Capitec Bank die suksesvolste wat betref reaksie op die mark se behoeftes. Beleggers het moontlik vasgeskop teen Net1 se kontrak met die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekuriteitsagentskap, maar hulle het stygsentiment oor Capitec se prestasie aan die dag gelê ondanks gerugte van roekelose uitlening en swak skuld. Maar is daar nie belangrike lesse te leer uit hoe hierdie organisasies die lae-inkomstemark benader het nie? Innovasie is belangrik maar Shirley, wat ook HOB van Cornerstone Performance Solutions is, waarsku dat dit deur behoeftes gedryf moet word. “Innovasie beteken vir my as kliënt niks, ek stel nie belang in tegnologie ter wille van tegnologie nie,” sê hy. “Wat ek wil hê, is om te sien waar my geld elke maand gaan en beter finansiële besluite te kan neem sonder om meer koste gehef te word as wat ek bereid is om te betaal.” Tyer glo dat dit van kardinale belang is om te luister na wat mense werklik nodig het.

“Dit gaan ook oor `n verandering in ons benadering. Ons moet die maatskaplike uitwerking van elke winsmakende beleggingsgeleentheid in ag neem. Dit is `n goeie idee om in vennootskap te gaan met beginbesighede en maatskaplike entrepreneurs, maar ons moet ook in gedagte hou dat besighede wat nuut begin, kan misluk; waar ons nie kan voorsien nie, moet ons kapitaal voorsien. Korporatiewe Suid-Afrika moet dit laat gebeur as ons `n ware nalatenskap wil agterlaat.” Tyer stel voor dat die segmentering van banke `n aantal wenke mag oplewer om `n oplossing te vind. “Dis nuttig om by verskillende soorte denke betrokke te raak. Vind uit wat swart mense, milleniale, die jeug en verbruikers aan die onderpunt van die piramide wil hê,” sê hy. Hy redeneer dat “verligte selfbelang op steroïede” moontlik die antwoord mag wees, maar belanghebbendes vereis soms aansporings om veranderings om die regte redes aan te bring.

“Die ware probleem is hoe om die ekonomie te diversifiseer en werk te skep. Buitelandse direkte belegging is belangrik, en net so ook aansporings wat ons sal toelaat om die meeste te maak van ons mededingende voordele. Jy kan nie ekonomiese groei beplan deur net na die volgende jaar of twee te kyk nie; jy het `n langtermynvisie en langtermynkapitaal nodig om volhoubare resultate te lewer.”

In ooreenstemming met gedeelde waardes

Shirley glo dat banke groter klem moet plaas op blywende waarde en kliëntwaarde, maar dit beteken om verder te dink as bloot die korttermynimpak op `n inkomstestaat. “Maatskappye met `n wetenskaplike bestuursagtergrond dink nie so nie – dit is ekosistemiese denke, wat `n meer onlangse konsep is. Jy dink uiteindelik eerste aan kliëntwaarde, fokus op volhoubare groei, en laat die inkomstestaat na homself kyk. Maar dit beteken om minder van `n korttermynbenadering te volg,” sê hy.

“Enige tekortkominge op die gebied van inklusiewe bankdienste is in werklikheid `n funksie van nie in staat te wees om te dink aan kommersieel uitvoerbare oplossings wat vir die kliënt genoeg waarde sal skep nie, of dat mense nog nie `n manier gevind het om dit kommersieel aantreklik te maak nie.” Baie modelle is hoërisiko-, hoëkostemodelle met lae opbrengste, maar die aanbieding van bankdienste aan die bopunt van die mark is nie die antwoord nie. Banke moet hulself afvra in watter aktiwiteite lae-inkomsteverdieners gedurende die loop van hul daaglikse lewens betrokke is, en hoe bankdienste aandag aan hierdie aktiwiteite kan gee.

“`n Kliënt het soms net `n kontantbestuurskanaal nodig – spaargeld op `n kontantdistribusienetwerk kan aan kliënte oorgedra word, soos wanneer `n supermark dieselfde rol as `n OTM speel,” sê Shirley. “Deur te dink aan wie se sukses kan afhang van die verkryging van dienste aan mense sonder `n bankrekening kan ook `n nuttige oefening wees. Jy moet uiteindelik dink oor watter kombinasie van transaksiedienste, spaargeld, lenings en die bestuur van risiko sin sal maak teen `n bepaalde prys ten einde lae-inkomsteverdieners in staat te stel om te floreer.”

Navorser Oji sê beplanning rondom inklusiewe groei gaan nie meer net oor die uitbreiding van infrastruktuur om vir landelike mense te voorsien nie, hy glo dat dit `n “holistiese konsep is met praktiese en kwantifiseerbare gewin vir lande, met `n impak op prosesse wat aan sosio-ekonomiese ontwikkeling gekoppel is”.

Hy doen aan die hand dat `n magtigende regulatoriese omgewing veel sal bydra om klein besighede `n hupstoot te gee, byvoorbeeld saam met ontwikkelingstrategieë om die finansieel uitgeslotenes na formele finansiële instellings te lok sodat hulle baat kan vind by `n verskeidenheid finansiële produkte. Dit kan ook vrugte afwerp om te kyk na uitleenmodelle waarvoor nie aanvullende sekuriteit nodig is nie.

Suid-Afrika het `n enorme voordeel wat baie ander Afrikalande nie het nie – `n hoogs ontwikkelde, volwaardige finansiële sektor wat uiters goed funksioneer. `n Afwaartse benadering na lae-inkomsteverdieners kan hulle egter van die formele sektor vervreem, dus kan `n verandering in ingesteldheid in orde wees.

“Dit kom uiteindelik daarop neer hoe jy vir jou kliënt reële waarde kan skep,” sê Shirley. “Dis blywende waarde wat volhoubaar is”.

Disclaimer: The advice contained on this blog is for general purposes only and does not take into account individual circumstances, objectives or financial needs. Accordingly, readers are advised to seek appropriate advice from licensed professionals prior to making any investment, or taking up a financial product or service.

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Pinterest