13 November 2017

Ondersoek van beleggings: wat behels`n goeie belegging

My Money Matters |

Om `n ewewig te skep tussen verwagtings en werklikheid is `n vaardigheid van onskatbare waarde, dog bly dit die meeste van ons ontwyk. Onredelik hoë verwagtings lei dikwels tot teleurstelling; tog hou ons nooit op om groot te droom nie.

Dit is dus nie verbasend dat die meeste van ons die beleggingswêreld betree onder die waan dat ons binne `n paar jaar goud sal tref nie, terwyl die suksesvolle belegger meer dikwels as ander die meeste geduld toon.

Om van alles te probeer sin maak, het ons kers opgesteek by Absa Welvaart- en Beleggingsbestuur se hoof van Fondsbestuurders, Sylvester Kgatla.

Daar bestaan nie `n omskrywing van `n ‘goeie opbrengs’ nie

Neem dit met `n knippie sout. Ja, jy kry goeie en swak beleggings, en gepaard daarmee goeie of swak opbrengste, maar die punt hier is dat `n ‘goeie opbrengs’ op `n belegging absoluut relatief is.

“Suid-Afrika kom uit `n era van abnormaal hoë opbrengste,” sê Sylvester. “Tot in 2007 het ons jaarlikse opbrengste van meer as 20% in die eiendomsmark gesien, met 10 tot 15% op aandele en effekte.

“In 1998 het die rentekoers rondom 18% bereik en jy sou opbrengste van 15 tot 16% op risikovrye geldmarkfondse sien. Dit lei tot `n generasie van beleggers met onrealisties hoë verwagtings van massiewe opbrengste, en baie ouer beleggers het steeds hierdie geestesingesteldheid. Deesdae is `n meting van sukses in belegging dikwels om net welvaartbeskerming te verseker, en baie beleggers uit die ou skool is nie daarmee tevrede nie.”

Hoe kan ons dus `n goeie opbrengs op `n belegging beskryf?

Sylvester glo dat `n goeie opbrengs vir elke belegger uniek is: Dit hang geheel en al af van jou mandaat en watter wins jy hoop om op jou belegging te maak. Jy soek moontlik bewaring van kapitaal, in welke geval jy kan hoop om opbrengste in lyn met inflasie te behaal. Of jy soek meer groei, wat ons `n ‘slaap snags’-belegging kan noem, `n konserwatief gematigde benadering waaruit jy hoop om `n opbrengs van inflasie plus 2% of 3% te behaal.”

“In wese is `n goeie opbrengs vir `n individu relatief tot hul verwagtings en hul risikoaptyt. Wat een belegger as ‘goed’ sien, kan `n ander dalk anders sien.”

Hou jy daarvan om gevaarlik te leef?

Risiko speel `n groot rol om jou eie ‘goeie‘ belegging te omskryf. Jou risikoaptyt is hoogs afhanklik van faktore soos jou doelwitte, ouderdom en vlak van besteebare inkomste. Jonger werknemers wat `n goeie pos beklee en ver van aftrede is, het gewoonlik `n groter risikoaptyt aangesien hulle daarna streef om hul kapitaal te laat groei en hoër opbrengste te behaal om hulle later in hul lewe goed te staan te kom. Daarenteen kan risikoaptyt afneem namate aftree-ouderdom nader kom wanneer die oogmerk is om welvaart te bewaar en te handhaaf eerder as om dit te laat groei. Dit is natuurlik nie altyd die geval nie en baie afgetredenes het meer besteebare welvaart wat hulle bereid is om te belê ten einde in hul goue jare groter opbrengste te behaal.

Voor belegging (veral vir die eerste keer) is dit dus standaardpraktyk om `n risikobeoordelingsprofiel te doen. Dit bepaal jou risikoaptyt in lyn met jou beleggingsdoelwitte en om te besluit hoe konserwatief of aggressief jou beleggingstrategie behoort te wees.

Hoewel baie van ons glo dat ons bereid is om die risiko te loop vir `n groter beloning, neig ons ongelukkig om paniekbevange te raak wanneer dinge skeefloop.

“Mense raak maklik paniekerig en dit kan hul beleggingsukses ruïneer,” gee Sylvester toe. “Sodra hulle slegte nuus hoor, raak hulle paniekerig en onttrek hul belegging met die doel om te herbelê wanneer die mark weer stabiliseer. Die probleem is dat Jan Alleman gewoonlik die nuus laat kry sodat hulle van `n daling in die mark hoor en laag verkoop, maar teen die tyd wat hulle hoor dat die mark weer gedraai het en weer terug inkoop, hulle reeds te laat is en uiteindelik hoog koop. In die geheel maak hulle op die lange duur `n verlies. Indien hulle geduld aan die dag sou lê en vermy het om paniekerig te handel, sou hulle waarskynlik die verandering kon weerstaan en sien dat hul belegging konstant bly.”

In `n spel wat deurspek is van inherente risiko en jy aanspraak maak op `n aptyt vir risiko, is jy beter daaraan toe om te ontspan en die slegte tye te trotseer as jy graag goeie resultate wil behaal.

Sylvester noem die geval van `n kliënt wat in 2004 `n bedrag van R10 000 in `n nuwe aandeleportefeulje van Absa belê het en dit op die lang termyn onaangeraak en veilig daar gelaat het. Daardie belegging is vandag meer as R100 000 werd. Deur bloot `n goeie portefeulje te kies en geduldig te wees, is `n opbrengs van meer as 900% gelewer, wat die meeste beleggers objektief as `n ‘goeie opbrengs’ sou beskryf.

Fooie asseblief

Dit is vir baie beleggers `n aanvegbare onderwerp. Hoë fooie kan met verloop van tyd jou opbrengs erodeer, wat `n frustrerende aspek is, veral wanneer sommige fondse feitlik onbeduidende fooie hef en beter presteer as ander met hoë fooie.

Daar is wesenlik twee spelers in die fondsbestuurspel: diegene met `n Aktiewe benadering en diegene met `n Passiewe benadering. Die Aktiewe fondsbestuurder glo dat markte intrinsiek meer ingewikkeld is as getalle en patrone en dat hulle aansienlike waarde toevoeg om hoë fooie te regverdig. Die Passiewe bestuurder sal aan jou sê dat dit onnodig is, dat `n berekende belegging en rekenaargedrewe algoritmes die werk sal doen en uiteindelik dieselfde opbrengs as `n aktiewe benadering sal oplewer, dus is hierdie hoë fooie nie `n ware weerspieëling van waarde nie.

Dit kom op die lange duur neer op wat vir jou werk.

“Wat fooistruktuur betref, het jy óf `n vaste óf `n prestasiegebaseerde fooi,” sê Sylvester. Die vaste fooi is bv. 1% van die beleggingswaarde op `n daaglikse grondslag. Indien jy dus R10 sou belê, sou dit 1% daarvan wees verdeel deur 365. Indien die waarde van die fonds toeneem, is die 1% meer werd vir die bestuurder en omgekeerd as dit verminder. Dis dus in hulle belang om toe te sien dat die fonds presteer. Dit is maklik om hierdie vaste fooi te verstaan en dit word gewoonlik as billik vir beide partye gesien.”

“Die prestasiegebaseerde fooi skop in wanneer `n normaanwyser of teiken, gewoonlik die JSE se indeks van alle aandele, bereik of oorskry word en die bestuur hef 1% plus 10% van die oorprestasie van die normaanwyser. Aan die ander kant, as die fonds tot onder die normaanwyser afneem, is daar geen prestasiefooie nie en die bestuurder hef bloot byvoorbeeld 50 basispunte. Die prestasiefooi word gegrond op `n vasgestelde hernubare tydperk en weerspieël nie altyd die lopende prestasie nie of tree in werking vanaf die eerste keer wat jy belê, dus is dit inherent meer ingewikkeld en baie beleggers kan voel dat dit ietwat onregverdig is.”

Fondsbestuurders het gewoonlik `n diverse produkportefeulje met verskillende fooistrukture waaruit jy kan kies, gegrond op wat vir jou en jou beleggingsdoelwitte werk. Die name van die fondse word ook gereguleer vir konsekwensie oor die spektrum. Jy sal dus weet dat jy dieselfde produk kry indien jy graag goed wil rondkyk by verskillende fondsbestuurders en die fooistruktuur en bestuurder wil vind wat die beste met jou doelwitte ooreenstem.

Absa verskaf ook `n verskeidenheid belastingvrye fondse sonder enige prestasiefooie, soos die Belastingvrye ETF en Belastingvrye Effektetrust, wat betreklik goedkoper is en in die algemeen beter opbrengste lewer, en jy word natuurlik nie belas op die opbrengs nie. Dis `n puik wegspringpunt vir `n belegger wat die eerste keer belê om `n hap te kry uit `n betreklike laerisikobelegging.

Deskundige advies

Wanneer dit kom by die keuse van `n tipe belegging om jou beleggingstermyn en risikovlak te pas, bied Sylvester waardevolle insig:

“Vir `n termyn van tot 5 jaar, kan jy goed doen deur na `n gebalanseerde of beheerde fonds te kyk wat `n multibatefonds in effekte, aandele of kontant is, met `n buigsame mandaat wat jou fondsbestuurder toelaat om tussen bateklasse te beweeg afhangende van marktoestande.”

“Vyf jaar plus kan jou na `n aandelefonds laat verskuif. Indien jy `n behoorlik aptyt vir risiko het, kan jy na `n enkelbateklas soos eiendom kyk. Dit kan uiters volatiel wees aangesien jy slegs van een aandeel na `n ander kan verander indien die mark draai, in plaas van om tussen bateklasse te kan beweeg. Daar is `n inherente gevaar daaraan verbonde aangesien die hele mark geraak kan word as iets verkeerd loop, maar die potensiële opbrengs is aansienlik hoër.”

En wat die keuse van die genoemde bestuurder betref, glo Sylvester dat dit op `n kombinasie van faktore neerkom.

“Jy moet moontlik jou risikoaptyt, jou beleggingsdoelwitte en jou verwagtings balanseer, en dan `n beleggingsbestuurder vind wat met jou unieke beleggingsprofiel ooreenkom. Kyk na hulle langtermynprestasie en handelsmerk. Verteenwoordig hulle hulself of ‘n groter entiteit? Het hulle `n volgehoue en gesonde prestasierekord? Oorweeg hul fooie en die waarde wat jy terugkry sorgvuldig. Indien een bestuurder 150 basispunte hef en `n ander 85, wen jy reeds op jou belegging as jy laasgenoemde kies, mits hulle op `n relatief soortgelyke vlak presteer. Sommige mag hoër fooie kies op grond van handelsmerk en prestasierekord, en dis ook in die haak, maar neem altyd in ag hoe hoë fooie jou opbrengs met verloop van tyd erodeer.”

Laastens, oor die onderwerp van beleggingstoekennings stel Sylvester omsigtigheid voor: “Dié om dop te hou is Raging Bull en Morning Star, maar as iemand een jaar `n toekenning wen en vir die volgende 5 jaar in die niet verdwyn, moet jy moontlik op jou hoede wees. Toekennings is van waarde in die geval van herhaalde prestasie en saam met `n volgehoue prestasierekord, maar beteken nie veel in isolasie nie.”

Op stuk van sake, wanneer dit by belegging kom, is dit die beste om lang termyn te kyk, dink en handel.

Vir meer inligting bel asseblief die inbelsentrum by 0860 11 456, e-pos utenquiries@absa.co.za of vra u finansiële adviseur.

Vrywaring: Die advies in hierdie blog is slegs vir algemene doeleindes en neem nie individuele omstandighede, doelwitte of finansiële behoeftes in ag nie. Lesers word gevolglik aangemoedig om gepaste advies te soek by `n gelisensieerde professionele adviseur voordat enige belegging gedoen word, of `n finansiële produk of diens aanvaar word.

Disclaimer: The advice contained on this blog is for general purposes only and does not take into account individual circumstances, objectives or financial needs. Accordingly, readers are advised to seek appropriate advice from licensed professionals prior to making any investment, or taking up a financial product or service.

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (1 votes, average: 5.00 out of 5)
Loading...

Pinterest